Terug na bo


Aros: Kortlikse oorsig

Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) is ʼn  privaat Christelike hoëronderwysinstelling wat roepingsgedrewe studente oplei om die onderwysprofessie met kundigheid te betree.  Onderwys in Suid-Afrika is ’n dinamiese veld wat heelwat uitdagings moet trotseer, wat onder andere ’n tekort aan onderwysers insluit.  Aros wil graag studente toerus om ʼn verskil in die onderwyslandskap te maak.


Akkreditasie en registrasie

Registrasiedokumente

Aros is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as 'n privaat hoëronderwysinstelling geregistreer kragtens die Wet op Hoër Onderwys, 1997.  Registrasienr.: 2012/HE08/001.


Aros se doel en grondstellings

Doel

Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies stel hom ten doel om:

  • op die vlak van hoër onderwys uitnemende opleiding te verskaf en studie op ’n Christelik-Reformatoriese grondslag te onderneem; en
  • in die algemeen Christelik-Reformatoriese opleiding en studie te bevorder.

Grondslag

Die grondslag  van Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies is die Bybel soos bely in die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.     

Visie 

Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies streef daarna om ’n uitnemende hoëronderwysinstelling te wees wat op ’n Christelik-Reformatoriese grondslag die samelewing tot eer van God vernuwe.

Missie

Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies wil sy visie verwerklik deur die volgende beginsels van uitnemendheid in onderrig en navorsing uit te leef:

1.1 Die Akademie is ʼn vrye instelling wat nie onder die direkte gesag van die staat, kerk, ʼn politieke groepering of kultuurorganisasie staan nie.

1.2 As vrye, selfstandige instelling vra die Akademie na die oortuiging van sy personeel, aangesien die Akademie sy belydenisgrondslag en visie slegs kan uitleef indien personeel dit entoesiasties aanvaar en uitleef.

1.3 Die Akademie wil sy opleiding op ’n diensbare wyse beskikbaar stel vir enigeen wat bereid is om opleiding wat op die grondslag van die Akademie gebaseer is, te ontvang.

1.4 Die Akademie se ankertaal is Afrikaans, wat beteken dat opleiding in Afrikaans plaasvind, ander werksaamhede in Afrikaans geskied en navorsing in Afrikaans aangemoedig word.

1.5 Die Akademie erken die belangrikheid dat Christelik-Reformatoriese opleiding en studie wyer as slegs onder die Afrikaanssprekende gemeenskap bevorder moet word. Die Akademie is ook daartoe verbind om waar moontlik betrokke te raak by opleiding van nie-Afrikaanssprekendes sonder om die gerigtheid op onderrig in Afrikaans te laat vaar.

1.6 Die Akademie moet voldoen aan die opvoedkundige standaarde wat statutêre liggame vir akkreditasie stel en strewe  daarna om sover moontlik hierdie standaarde te oortref.

1.7 Die Akademie vorm studente en doen navorsing op omvattende wyse sodat geloof, wetenskap en lewenspraktyk nie los van mekaar staan nie. Uitnemende wetenskaplike kennis en praktyk word vanuit die skeppingsopenbaring in die lig van die Bybel ontwikkel en vind uiting in ʼn samehangende filosofiese basis.

1.8 Die Akademie lê klem op roepingsvervulling en diensbaarheid in God se koninkryk en die gemeenskap waarin studente en personeel nou en in die toekoms gaan leef en werk sodat hulle ʼn positiewe invloed binne die gemeenskap kan uitoefen.

1.9 Die Akademie kan beide afstandS- en kontakprogramme aanbied. In alle programme word gefokus op die integrering van die instelling se grondslag in die inhoud van daardie programme. Waar moontlik, word aandag geskenk aan kontak tussen dosent en student met die oog op oordrag van waardes in die student se unieke, persoonlike omstandighede.

1.10 Die Akademie rus studente met beroepsgerigtevaardighede toe en lê daarom groot klem op praktiese toepassing van kennis.

1.11 Die Akademie stel ’n hoë premie op bestendige onderrig in ’n bestendige onderrigomgewing. Dit sluit integriteit en goeie gedrag van sy personeel en studente in sodat die goeie naam en karakter van die Instelling gehandhaaf word.

1.12 Benewens sy klem op hoër onderwys opleiding, bevorder die Akademie Christelik-Reformatoriese opleiding in die algemeen.

1.13 Die Akademie kan op nasionale en internasionale vlak met ander instellings en organisasies skakel en saamwerk.

 


Bestuur

Aros word deur ʼn uitvoerende hoof bestuur wat as rektor en voorsitter van die Senaat optree. Die Senaat bestaan uit die volgende persone:


As instelling sonder winsbejag staan Aros onder die beheer van ʼn direksie. Dit word ook die Raad genoem. Die volgende persone dien tans op die Raad:


Lidmaatskap

iapche.org

As Christelike privaat hoëronderwysinstelling is dit vir Aros om verskeie redes belangrik om met soortgelyke instellings plaaslik en in die buiteland te skakel. Langs hierdie weg word die roeping om aan die saak van Christelike hoër onderwys diensbaar te wees saam met mekaar onderneem.