Die onderrigmedium by Aros is Afrikaans, met die prinsipiële vertrekpunt van veeltaligheid en moedertaalonderrig.
Veeltaligheid is deel van die eenheid en die verskeidenheid van die werklikheid as skepping. Beide die eenheid, dat die Skepping juis Gód se Skepping is en die veelheid, dat God se veelkleurige wysheid in die verskeidenheid na vore tree, is belangrike prinsipiële uitgangspunte. Veeltaligheid word ook binne die raamwerk van die Grondwet as sodanig erken met die status wat aan amptelike tale gegee word. Vanuit die beginsel van naasteliefde is dit ook noodsaaklik dat enige oorheersing of verdringing binne die taalruimte nie gebeur nie en vermy word. In hierdie opsig wil Aros Christelike onderwys binne die Afrikaanse taalgemeenskap bevorder. Daar is teen hierdie agtergrond ook die roeping tot die bevordering van Christelike onderwys in ander taalgemeenskappe.
Die bevordering van moedertaalonderrig is juis deel van dienswerk. Dit is nie alleen ‘n bewese feit dat kinders wat, veral in die Grondslagfase, in hulle moedertaal onderrig word op die lang termyn bevoordeel word nie, maar moedertaalonderrig is juis ook die manier waarop Aros uiting gee aan die eenheid-en-verskeidenheidsbeginsel. Tale is juis aan die mens gegee sodat die groot dade van God beskryf en besing kan word.
Aangesien God Homself in sy Woord en werke openbaar, is dit juis belangrik dat Aros se dosente hierdie beginsel onderskryf. Die gestelde vertrekpunte lei logies daartoe dat die ekumeniese strewe, om oral en altyd Christelike onderwys te bevorder, aangepak en uitgebou word. Aros sien homself daarom in hierdie verband as leidinggewend binne die Christelike onderwysbeweging om juis veeltaligheid en moedertaalonderrig binne alle kontekste met voorbeeldige raad en daad te help bevorder.
Met hierdie uitgangspunt is Aros se aanslag uniek. Aros se kwalifikasies is juis so ontwerp en gestruktureer dat gediplomeerdes en gegradueerdes toegerus is om binne die werklikheid in beginsel én in die praktyk die ryke verskeidenheid op 'n sinvolle wyse vanuit die onderwys te kan benader. Die eenheid van God se skepping- en verlossingswerke kom juis na vore in die sin dat Jesus Christus as die enigste en ware Leermeester van die mens bely word.