Terug na bo

Hoe weet jy onderwys is jou roeping?

Hoe weet jy onderwys is jou roeping? Hoe besluit ek watter fase my sal pas? Hoe kies ek tussen Grondslagfase, Intermediêre Fase , Senior & VOO of NGOS? 

Grondslagfase

Die Grondslagfase strek van die kleuter se ontvangsjaar tot graad 3. Jy bou aan die kind se etiese, sosiale en fundamentele grondslag as ‘n onderwyser in hierdie fase. Om in hierdie fase te onderrig, moet jy ‘n liefde hê om met jong kinders te werk en dit geniet om deur middel van ‘n praktiese aanslag te onderrig. Die onderwyser moet selfs in hierdie fase ‘n kenner wees in die leerareas van taal-, syfer- en lewensvaardighede. Geduld, kreatiwiteit en empatie is tipiese kenmerke van ‘n Grondslagfase-onderwyser.

Intermediêre Fase

Hierdie fase strek van graad 4-7. In hierdie fase word ‘n meer tegnies georiënteerde werkswyse gevolg. Verder is die wyse waarop akademiese vaardighede bevorder word ook meer gespesialiseerd. Die kennis waaraan leerders blootgestel word, word duideliker in hierdie fase omskryf. Leerdissiplines in hierdie fase sluit Tale, Wiskunde, Wetenskappe en Sosiale Wetenskappe in. Die onderwyser moet akademiese vaardighede se basiese beginsels in hierdie fase ontwikkel. Daarom is die vakkennis van opvoedkundiges in die Intermediêre Fase meer uitgebreid. Die behoefte aan onderwysers in hierdie fase is geweldig groot. 

Senior & VOO-fase

Hierdie fase strek van graad 7-12. Die onderwyser in hierdie fase is dus ‘n vakspesialis wat leerlinge vir hul loopbaan voorberei. Daar word gefokus op die integrasie van rou vakkennis en die oordrag van hierdie kennis aan die graad 7-12-leerlinge. Onderwysers in hierdie fase moet gemaklik wees met verandering en vakaanbieding wat meer akademies en tegnies van aard is. Voorbereiding en genoegsame ondersteuning vir die leerling is noodsaaklik.

Diploma in Gr R-onderrig

As deel van Grondslagfase-onderwys in Suid-Afrika is graad R-onderrig spesifiek daarop gerig om graad R-leerders toe te rus met die nodige waardes, vaardighede en kennis wat noodsaaklik boustene vir formele onderrig in graad 1 is.

Aros bied ‘n graad R-diploma aan vir onderwysers wat graad R-poste in kleuterskole en laerskole beklee. Die kwalifikasie strek oor‘n tydperk van drie jaar en sluit ‘n praktiese komponent in.

NGOS

Beskik jy oor ‘n graad en wil jy graag jou roeping as onderwyser uitleef? NGOS is ‘n nagraadse onderwyssertifikaat wat jou voorberei om vakkennis in jou vakgebied aan hoërskoolleerlinge oor te dra. Aros bied drie NGOS-spesialiseringsrigtings aan, naamlik Tale, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Natuurwetenskappe. As jy ‘n passie vir die onderwys het, is hierdie rigting net vir jou!

Hoekom kies jy Aros?

Aros as Christelike privaat hoëronderwysinstelling lei roepingsgedrewe studente op om ‘n verskil in die onderwyslandskap te maak. Aros gebruik ‘n unieke onderrigmodel waar studente kontaksessies en e-leer as onderrigmodel gebruik. Die kontaksessies vind plaas by Aros se kampus in Pretoria. Deur die week vind skakeling deur middel van e-Klas (elektroniese klas op die internet) plaas. Hierdie onderrigmodel stel studente in staat om te werk terwyl hulle studeer.

Daar word van studente verwag om vir bepaalde tye praktiese ervaring by skole op te doen. Studente word vir die onderwyspraktyktydperk deur Aros by ‘n skool geplaas (indien die student nie alreeds by ‘n skool betrokke is nie).

Aros bied tans BEd in Grondslagfase-onderrig, BEd in Intermediêrefase-onderrig, BEd Senior Fase & VOO, NGOS en ‘n Diploma in Graad R-onderrig aan .’n BEd-graad is ‘n studieprogram van vier jaar en die Diploma in Graad R-onderrig is drie jaar. NGOS kan voltyds of deeltyds wees. 

Aros se aansoeke vir 2022 open op 1 April 2021. Voornemende studente kan die webwerf dophou vir die Prestige-onderwysbeursaansoeke wat in Mei 2021 open.