William Arthur Ward het gesê: “Die middelmatige onderwyser vertel. Die goeie onderwyser verduidelik. Die bogemiddelde onderwyser demonstreer. Die uitsonderlike onderwyser inspireer.”
By Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) word studente begelei om die onderwysberoep ten eerste as ʼn roeping van die Here te aanvaar en te betree. Studente wat by Aros studeer het, beskik oor beroepsgerigte opleiding, en wanneer onderwys as ʼn roeping gesien word, gee dit besondere sin en betekenis aan hierdie beroep. Tydens Aros-studente se studie word daar ook op die ontwikkeling van Christelike waardes in die klaskamer gefokus. Aros-studente is hoog in aanvraag by Afrikaanse en Engelse privaat en openbare skole, ʼn verskeidenheid van ander opvoedkundige instellings en ook op internasionale vlak. By Aros word uitsonderlike onderwysers opgelei om te inspireer en bouwerk te doen in die lewens van ons kinders.
Aros het in 2021, te midde van ‘n wêreldwye pandemie, steeds volstoom voortgegaan met wêreldgehalteonderrig aan studente. Aros se modus van aflewering is in die laaste twee jaar ook aangepas. Tans kan kurrikulums as afstandsonderrig aangebied word, wat geskied deur addisionele ondersteuning aan studente te bied in die vorm van: direkte kontaksessies en/of interaktiewe, aanlyn sessies, werkswinkels of ekstra klasse.
Aros spog in 2022 met ‘n rekordgetal eerstejaars en kan met dankbaarheid aankondig dat 834 eerstejaars by die Aros-familie verwelkom is. Die eerstejaarsgetalle groei jaarliks, en juis in hierdie opsig is Aros as privaat hoëronderwysinstelling trots en dankbaar om te kan sê dat ons elke jaar onder die Here se seën van krag tot krag gaan.
“Ons wil graag voornemende studente wat dit as ‘n roeping beskou om ‘n onderwyser te word en by ‘n instelling wil studeer waar die onderrig op ʼn Christelik-reformatoriese grondslag geskied, verwelkom en uitnooi om aansoek te doen by Aros. Ons land het sulke mense dringend nodig,” aldus prof Rikus Fick, rektor van Aros. Aros se onderrigmodel bied die ideale geleentheid vir voornemende onderwysers om hul studie en praktieseonderwys-ervaring gedurende die vier jaar te kombineer.