Terug na bo

Grootste onderwysbeurs in Suid-Afrika bekendgestel

Drie van die grootste onderwysbeurse in die privaat hoër onderwys word vandag in Pretoria bekendgestel. Aros bied in samewerking met Pretoria FM en Rapport Onderwysfonds aan drie top- presterende Afrikaanse studente die geleentheid om sy/haar vierjaar-onderwysgraad kosteloos by Aros te voltooi en te verwerf.

Die beurse beloop ‘n huidige waarde van R250 000,00 per beurs oor die volgende vier jaar. Dit sluit in ‘n BEd Grondslagfase-graad of ‘n BEd Intermediêre Fase-graad in een van die twee BEd Intermediêre Fase-rigtings of ‘n BEd Senior Fase & VOO-graad in een van die drie spesialiseringsrigtings.

Hierdie beurs is daarop gemik om die onderwysberoep en studie in die onderwys weer prominent onder skoolverlaters se aandag te bring.  “Ons wil graag belê in belowende voornemende studente wat dit as ‘n roeping sien om ’n onderwyser te word en wat wil studeer by ‘n instelling waar hulle op ‘n Reformatoriese grondslag onderrig ontvang. Ons land het sulke mense dringend nodig,” aldus prof Rikus Fick, rektor van Aros. Aros is geregistreer as ‘n afstandsonderriginstelling. Juis hierom kan voornemende studente van regoor Suid-Afrika aansoek doen vir studie in 2023 by Aros, asook voornemende studente wat kwalifiseer om vir die Prestige-onderwysbeurs aansoek te doen.Om in aanmerking vir hierdie beurs te kom, moet voornemende studente aan die volgende kriteria voldoen:

Kandidate moet

  1. ‘n gemiddeld van ten minste 75% behaal in beide die graad 11- finale eksamen en die graad 12-Junie-eksamen (die punte van 2022-matrieks word in ag geneem – vir persone wat reeds matriek voltooi het, tot en met die ouderdom van 21, word daar gekyk na finale matriekpunte);
  2. deelneem aan buitemuurse aktiwiteite, bv. leierskapsposisies, sport, kultuur en ander aktiwiteite word ook in ag geneem.
  3. ’n motivering van ongeveer 300 woorde skryf waarin hulle motiveer waarom hulle onderwys by Aros wil studeer.

Aros se afstandsonderrigmodel bied die ideale geleentheid waar onderwysers hul studie en praktieseonderwys-ervaring deur hul vier jaar kan kombineer. By Aros kan studente werk en studeer.

Aansoeke vir die Prestige-onderwysbeurs open op 20 Julie 2022 en sluit op 31 Oktober 2022. Om aansoek te doen, kan voornemende aansoekers hier klik: Prestigebeurs (aros.ac.za)