Terug na bo

Aros brei uit met nuwe opleidingsgeleenthede in die onderwys!

Aros is ʼn private, Christelike hoëronderwysinstelling wat by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer is.  Die onderwyslandskap in Suid-Afrika is dinamies. Tans is daar heelwat uitdagings waarvoor die onderwys te staan kom. ʼn Beduidende tekort aan onderwysers is een hiervan. Juis hierom wil Aros roepingsgedrewe studente oplei wat, nadat hulle hul studie voltooi het, die onderwysprofessie met kundigheid kan betree.

Aros poog om jaarliks studente van hoogstaande gehalte te lewer. Tans bied Aros ‘n Diploma in Graad R-onderrig, BEd in Grondslagfase, BEd in Intermediêre Fase en ’n BEd in Senior Fase & Verdere Onderwys en Opleiding aan, asook die Nagraadse Onderwysdiploma. Studente volg ‘n afstandsonderrigmodel, en studente van regoor Suid-Afrika vorm deel van ‘n korps van meer as 2 400 studente.

Aros het sopas akkreditasie by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding ontvang om vanaf 2024 twee nuwe onderwyskwalifikasies aan te bied. Dit sluit ‘n Hoër Sertifikaat in Onderwys en ‘n Honneurs in Leerondersteuning in. Aansoeke vir albei hierdie studierigtings is oop, en voornemende studente kan aanlyn daarvoor aansoek doen.

Die doel van die Hoëronderwyssertifikaat is om die student toe te rus met kognitiewe en konseptuele gereedskap vir hoëronderwysstudie. Die fokus sal gerig wees op die ontwikkeling van basiese vaardighede wat noodsaaklik vir suksesvolle graadstudie op tersiêre vlak is. By Aros word die Hoër Sertifikaat aangebied deur middel van ‘n oopafstandsleermodel (’n ODL-model). Kontaksessies vind egter ook plaas. Die onderskeie modules van die Hoër Sertifikaat word begrond op die Christelike visie en missie van Aros om Christenonderwysers op te lei.

Hierdie doel hou dus verband met die verbetering van generiese akademiese vermoëns binne ODL. Hierby is basiese taalvaardighede, basiese wiskundevaardighede en leer-en-onderrig-vaardighede ingesluit.

Die kwalifikasie bied toegang tot graadstudie in veral onderwyskwalifikasies by tersiêre instellings. Ná suksesvolle voltooiing van die Hoër Sertifikaat sal voornemende onderwysstudente voldoen aan die toelatingsvereistes vir Aros-programme waartoe hulle nie vantevore toegang gehad het nie. Hierdie programme sluit die BEd Grondslagfase-, BED Intermediêre Fase- en die Senior Fase & VOO-program by Aros in.

Op sy beurt het die BEd Honneurs in Leerondersteuning ten doel om studente se teoretiese kennis in die leerondersteuningsveld te konsolideer en verdiep. Sodoende sal leerders in primêre skole (Grondslagfase en Intermediêre Fase) met diverse leerhindernisse doeltreffend geassesseer, ondersteun en bemagtig kan word. Die program sal ook studente in staat stel om diverse en unieke leervermoëns en -uitdagings te identifiseer en dit binne die onderwys te akkommodeer. Verder het die kwalifikasie ten doel om studente vir MEd-studie voor te berei deur op navorsingsvaardighede te fokus.

Aros se onderrigmodel bied die ideale geleentheid vir voornemende onderwysers om hul studie en praktiese onderwyservaring gedurende hul studietydperk te kombineer.

Aros sien uit om hierdie nuwe opleidingsgeleenthede vanaf 2024 aan te bied. Aansoeke om by Aros in 2024 te studeer, is reeds oop. Voornemende studente kan gedurende die week die splinternuwe Aros-kampus in Montanapark besoek vir ‘n kampustoer. Afsprake met die bekwame studentewerwers kan ook virtueel plaasvind.